
Raad vir 'n Knap Begroting
Jy bou waarskynlik reeds jou droom troue op Pinterest en blaai deur bruidstydskrifte vir inspirasie. Dis maklik om meegevoer te raak met al die mooi idees, maar voordat jy te diep daarin vasgevang raak, is dit belangrik om eers realisties te kyk na wat jy werklik kan bekostig. 'n Goed beplande begroting help nie net om stres te verminder nie, maar gee jou ook die vryheid om jou dag ten volle te geniet.
Maak gerus gebruik van ons 'Budget Planner' hier →
"Less is more"
Dit is glad nie nodig om onvoorbereid in jou troue in te gaan nie. Wanneer alles goed beplan is, verloop die dag soveel meer ontspanne. Meeste gaste onthou uiteindelik net 'n paar dinge: die kos, die musiek en of hulle hulself geniet het. Hou dit dus eenvoudig en fokus op wat werklik saak maak.
Venue
Die venue is gewoonlik een van die grootste uitgawes. Kies 'n venue wat gemaklik binne jou begroting val. Dit kan baie help om buite spitstye te trou — soos in die winter, gedurende die week of selfs op 'n Sondag. Indien 'n tradisionele trouvenue nie haalbaar is nie, oorweeg alternatiewe opsies soos 'n skoolsaal, 'n gemeenskapsaal of selfs 'n pragtige tuin by 'n instansie of huis.
Blomme en Dekor
Blomme bring romantiek en skoonheid, maar dit beteken nie jy hoef oorboord te gaan nie. Gebruik seisoenale blomme en hou die dekor eenvoudig. Groenigheid is ook 'n pragtige en bekostigbare opsie. 'n Slim wenk is om dekor te hergebruik — byvoorbeeld die blomme en vases wat tydens die seremonie gebruik is, kan later by die onthaal gebruik word, soos by die bruidstafel.
Gastelys
Wanneer julle die gastelys opstel, is dit belangrik om te onthou dat elke ekstra persoon die koste verhoog — nie net vir kos en drank nie, maar vir die hele ervaring. Hoe kleiner die gastelys, hoe meer beheer het julle oor julle begroting en hoe meer intiem kan die dag wees.
Spyseniering
Dit is nie goeie etiket om van gaste te verwag om vir hul eie etes te betaal nie. Baie venues bied verskillende pakkette aan wat aangepas kan word volgens jou begroting. Indien jy nie 'n venue gebruik nie, kan jy kyk na selfsorgopsies of iemand vra om te help met die kos. Onthou, 'n eenvoudige spyskaart kan steeds baie smaaklik en spesiaal wees.
Koek
'n Troukoek is nie noodwendig 'n moet nie. Baie paartjies kies vir 'n kleiner koek vir die bruidstafel, met kolwyntjies of 'n koektafel vir die gaste. Dit is dikwels meer bekostigbaar en steeds baie mooi.
Gastegeskenkies
Klein geskenkies vir gaste is 'n mooi gebaar, maar beslis nie noodsaaklik nie. As jy wel besluit om dit te doen, hou dit eenvoudig en binne jou begroting.
Musiek
Musiek speel 'n groot rol in die atmosfeer van jou troue en is een van die dinge wat gaste die meeste onthou. Maak seker dat alles professioneel hanteer word en dat die nodige SAMRO lisensies in plek is, sodat daar geen probleme op die dag is nie.
Fotografie
Fotografie is een van die belangrikste beleggings van jou troue. Dit is die herinneringe wat jy vir altyd gaan hê. Maak dus seker jy kies 'n fotograaf wat betroubaar is en kwaliteit werk lewer. Indien moontlik, is 'n videograaf ook 'n wonderlike ekstra.
Trou uitnodigings en drukwerk bykomstighede
Uitnodigings en ander papierware kan vinnig duur raak. Oorweeg om dit self te ontwerp, Trou Idees se klaar ontwerpte trou drukwerk te gebruik of eenvoudiger opsies te kies wat steeds mooi en stylvol is. Dit sluit alles in van uitnodigings tot welkom bord.
Doen vooraf navorsing oor verskaffers
Voordat jy enige verskaffer bespreek, neem die tyd om deeglike navorsing te doen. Lees resensies, vra vir verwysings en maak seker jy werk met mense wat jy kan vertrou. Dit kan jou baie teleurstelling en onnodige koste spaar.
Die troue is 'n spesiale dag, maar dit is belangrik om te onthou dat dit net die begin is van julle huwelik. Die huwelik is 'n verbintenis wat julle voor God en mekaar maak — en dit is wat werklik saak maak.
Kommentaar
Meld aan of registreer om kommentaar te lewer.
Laai kommentaar...